Primêre
Skool
Arboretum
Tuisblad
Agtergrond
Die skool se naam

 

Die woord "Aboretum" beteken 'n versameling bome.  Vandag word daar in die algemeen na 'n arboretum verwys as 'n botaniese tuin met n versameling houtagtige plante, waarvan 'n gedeelte vir wetenskaplike navorsing gebruik word.

 

Die term "arboretum" is vir die eerste keer deur John Claudius Loudon, in 'n Engelse publikasie ”The Gardeners Magazine”, in 1833 gebruik.  Die eerste arboretum was die ArboretumTrsteno, naby Dubrovnik in Croatia.  Hierdie arboretum was al reeds in 1492 in gebruik.

 

Ons skool is vernoem na die voorstad, Arboretum, waarin hy geleë is.  Al die strate in die voorstad, het boomname.  Die straat waarin die skool geleë is se naam is Waterbessie, 'n boom wat hier in Zoeloeland orals in die natuur voorkom.

 

 Die skool se wapen

 

Die kop van 'n arend vertoon prominent op die wapen.  Visarende word gereeld hoog in die lug bo ons skool gewaar terwyl hulle ons bekoor met hulle kenmerkende geroep. Die arend is 'n roofvoël wat hoog in die lug sweef vanwaar hy sy prooi kan raaksien en vir oorlewing suksesvol op jag kan maak .

 

 

 

Weerskante van die arend word water simboliseer.  Ons skool is, soos die arend sou vlieg, ongeveer 8 km van die see af.  Tussen die skool en die see lê die Mzingazi varswatermeer.  Dit is hier waar ons visarende die meeste van hulle prooi jag.

 

Water is simbolies van lewe.  Ons lewe nou, op hierdie oomblik.  Ons het net vandag.  Arboretum motiveer kinders om elke dag  voluit te leef en die lewe as geskenk te waardeer.

 

Onder die arend is 'n driearm-kandelaar wat lig simboliseer.  Die ou wêreld waarin ons leef word toenemend donker en onseker.  Die skool streef daarna om vir elke kind 'n baken van lig en hoop te wees.  Ons wêreld het ligdraers nodig om n verskil daarbuite te kan gaan maak.  Hierin lê ons roeping gesetel.

Die leuse op die wapen:  Alta Pete, beteken om hoog te mik.  Kinders wat leer om hoog te mik, ontwikkel geestelike en emosionele vlerke wat hulle in staat stel om bo hulle omstandighede te kan uitstyg om sodoende ‘n sukses van hulle lewe te kan maak.